Swartland Jongwynskou bring hulde aan 2018 se pronkwyne

Agt kelders afkomstig uit beide die Darling en Swartland WO-areas het vanjaar aan die Swartland Jongwynskou deelgeneem en het beïndruk met ‘n allemintige 9 goue, 58 silwer en 51 brons toekennings. Daarbewenens is ‘n groottotaal van 30 klaswenners aangewys vanuit die goue en silwer toekennings. Hierdie besonderse wyne staan as toonbeeld in hul kategorieë en het in aanmerking gekom vir die onderskeie streekstrofeë, buiten die Groot Kampioen-trofee waarvoor slegs wyne met goue toekennings verkiesbaar gestel is.
Die streekskompetisie word deur die Santam Swartland Wyn- & Olyfroete gekoördineer en vorm deel van die plaaslike aanloop tot die Suid-Afrikaanse Nasionale Jongwynskou, waarvan die uitslae op Saterdag, 25 Augustus 2018 vrygestel sal word tydens ‘n glansgeleentheid by Stellenbosch stadsaal na afloop van ‘n aanvanklike proe-sessie by die Markotter-sportkompleks.

Die Jongwynskou word beskou as ‘n tegniese kompetisie wat aan wynmakers die geleentheid bied om hul wyne van die nuutste oesjaar teen die van hul eweknieë te meet, en ook die gehalte van nuwe wyne en wynstyle op ‘n groter platform te toets. In die Swartland-streek kom wyne met silwer- en goue toekennings in aanmerking vir klaswenner-toekennings en die streek se onderskeie trofeë.
Daar is hierdie jaar benewens die bestaande trofeë twee bykomende toekennings uitgeloof – die Séan Nieuwoudt Cinsaut Trofee en die Vinochem Trofee vir die 5 Beste Inskrywings.
Plaaslike trofee-wenners vir 2018

Hierdie jaar se trofee-wenners is as volg:

Allesverloren
• SAIL Kampioen Versterkte Wyn (Rooi Muskadel Jerepigo, Klas 89:18)

Babylon’s Peak
• CJP Chemicals Chenin Blanc Trofee (Chenin Blanc, Klas 8:86)

Darling Cellars
• Kotzé/Steyn Kampioen Shiraz Trofee (Shiraz – gehout, Klas 74:72)

• Malmesbury Motors Kampioen Droë Rooiwyn (Shiraz- gehout, Klas 74:72)
• ABSA Groot Kampioen (Shiraz -gehout, Klas 74:72)

Meerhof Wines
• WPK/KAAP AGRI Kampioen Natuurlike Soetwyn (Hanepoot, Klas 44:17)

Pulpit Rock Wines
• Kobus Basson Kampioen Pinotage Trofee (Pinotage, Klas 69:22)

Riebeek Kelder
• Malmesbury Toyota Kampioen Droë Witwyn (Chardonnay, Klas 6:51)
• SAIL Kampioen Ander Witwynkultivar (Viognier, Klas 18:6)
• Séan Nieuwoudt Cinsaut Trofee (Cinsaut-gehout, Klas 76:1)
• Citrusdal Cellars Kampioen Ander Rooiwynkultivar (Cinsaut-gehout, Klas 76:1)
• Vinochem Trofee vir die 5 Beste Inskrywings

Volgens Alecia Boshoff, voorsitter van die Swartland-wynskouvereniging, is die resultate van die 2018-oesjaar ‘n aanduiding dat die streek se wynmakers hul kennis en ervaring kan gebruik om die regte besluite te neem onder uitdagende omstandighede.
“Die 2018-oesjaar was seker een van die moeilikste parsseisoene in baie wynmakers se loopbane. Die droogte het baie uitdagings gebied en die wingerdboer se vernuf is tot die uiterste beproef. Daarmee te same moes wynmakers anders dink en hul kennis en ervaring gebruik om die regte besluite te neem. Ten spyte van die moeilike seisoen het die Swartland-streek baie goed gevaar en is die wenners van vanjaar se kompetisie net weer ‘n bevestiging van die kwaliteit wyne wat die Swartland kan bied. Vanjaar se toppresteerder is ‘n Shiraz en daar is ook vir die eerste keer ‘n Kampioen Cinsaut-beker toegeken – simbolies van die Swartland! Die Vinochem Trofee vir die 5 Beste Inskrywings is ook ‘n nuwe toevoeging het het beslis bietjie kompetisie in die streek aangewakker,” sê Boshoff.

Die 2018 Swartland Jongwynskou-uitslae is op Vrydag 17 Augustus 2018 bekend gemaak tydens ‘n prysuitdeling by Nuweplaas Padstal na afloop van ‘n proe-sessie by Swartland Kelder.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top