Hoe Johan Mostert van Nieuwedrift Per Ongeluk die Swartland se Dom Perignon Geword Het

Johan Mostert van Nieuwedrift-wynlandgoed in die Swartland is wat die ou mense ‘n plaatjie sou noem. ‘n Spitsvondige, kwinksinnige kalant met ‘n vonkel in sy oog en ‘n vinnige, vlymskerp humorsin – gulhartig en altyd gereed met ‘n grappie (en ‘n glas van sy heerlike Méthode Cap Classique). Maar hoe het dit gekom dat ‘n vyfde-geslag koringboer ‘n wynmaker geraak het? Dis eintlik ‘n baie lekker storie!

“Ek het in 1987 begin boer hier op Nieuwedrift, nadat ek my graad in Landboubestuur aan Stellenbosch voltooi het,” vertel Johan. “Die jaar wat ek hier op die plaas kom was dit egter vreeslik droog, en ek het eintlik ook maar die 

meisies so bietjie gemis, en dis hoe dit gekom het dat ek vir drie jaar by Bottelary gewerk het oor parstyd. Dis daar waar die eerste saadjie vir die wynmakery geplant is, maar intussen moes daar eers ‘n spul ander goed gebeur. Ek het op 33 met my vrou Karin getrou (lekker laat vir daai tyd!), en toe het ons ons drie kinders, Bianka, Hendrik en Johannes, grootgemaak.”  

Die einste kinders is deesdae steeds op die plaas betrokke, en Bianka, haar man Eben van der Merwe, Hendrik en sy verloofde Carla Swart het onlangs die eertydse funksie-geriewe omskep in ‘n restaurant waar daar nou oor naweke heerlike pizzas, burgers, steaks en ander knuskos bedien word. Die eerste lid van die sewende generasie, Nina van der Merwe, is ook onlangs gebore.

“Toe die kinders eers mooi opgeskote is het ek en Karin weer tyd op ons hande, en dis toe sy begin skilder en ek begin wynmaak. My pa het al die jare ‘n paar blokke wingerd op die plaas gehad wat ons gelewer het aan Citrusdal, en toe Porterville. In 1996 het ons ‘n dam gebou en nog Chenin Blanc, Shiraz en Chardonnay aangeplant. Deesdae staan ons so op 15 hektaar.”

Die eintlike wynmakery het egter eers in 2002 op Nieuwedrift begin. “Die klomp Engelse op Koringberg, veral Jo-anne Hurst en Dell Holloway, het die gewoonte gehad om gereeld Franse sjampanje saam met hul gaste te geniet. Wat my gefassineer het daarvan is dat ek nooit hoofpyn gekry het daarvan nie – selfs al het ons ook hoe diep in daai bottels gekyk. Daar het my passie vir Méthode Cap Classique posgevat.”

“My eerste wyn het ek met ‘n lorry jack gedruk, sommer met stingels en al. Op daardie stadium het ek drie jaar in ‘n ry die Swartland se wingerblok-kompetisie gewen, en dan is wynmaak mos niks nie! Groot was my ontnugtering toe daardie eerste wyn basies ondrinkbaar daar uitsien. Toe besef ek, nee kyk, ek sal dringend ‘n ou moet kry wat my kan leer wyn maak. Dis hoe Marais de Villiers in my lewe gekom het. Ek het sy tenke in die Wynboer gesien, navraag gedoen daaroor en toe verneem hy bied ‘n konsultasie-diens aan. Albie Truter van Darling het my ook baie gehelp om die fynere kunsies van wynmaak onder die knie te kry.”

Nog ‘n lekker kinkel in die kabel is dat Johan eintlik per ongeluk sy eerste Méthode Cap Classique gemaak het. “Ek het my eerste bietjie Chardonnay se gisting aan die gang gekry en met groot afwagting en nuuskierigheid geruik en geproe tot dit vir my gelyk het dat die storie tot bedaring kom. Toe gaan leen ek ‘n kurkmasjien by Klaas de Jong van Porterville om die kurke met die hand in die bottels te sit. Na so drie weke begin ek elke nou en dan afkom op ‘n stukkende bottel en vermoed op die plek vuilspel – tot ek een oggend my kelder (toe nog ‘n slagkamer) patrolleer en met my eie oë sien hoe een van die bottels se proppe uitskiet en die een voor hom soos ‘n missiel tref. Dis glo ongeveer wat gebeur het met die Franse monnik, Dom Perignon, wat in die 1600s toevallig ontdek het hoe om sjampanje te maak.”

Deesdae verbou Johan benewens sy Méthode Cap Classique ook ‘n Shiraz, Chenin Blanch en Blanc de Noir, wat op die plaas te koop is. Nieuwedrift Wynlandgoed is oop vir proe en wynaankope van Maandag tot Vrydag tussen 09:00 – 13:00, en 14:00 – 17:00; op Saterdae van 09:00 – 14:00. Die restaurant is oop op Vrydae van 11:00 – 21:00, en Saterdae van 11:00 – 18:00. Maandae tot Donderdae kan besoekers op vooraf versoek geakkommodeer word vir maaltye.

Besoek gerus hul webwerf vir nadere besonderhede, en hou ‘n oog op hul Facebook-blad vir spesiale aanbiedinge en geleenthede by die restaurant.

Die Swartland Wyn- & Olyfroete word met trots geborg deur Santam.   

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top